Uit die pen van
Ons Hoof
Wilgiewenners word gekweek in Hoërskool Wilgerivier!
Hier kweek ons wenners vir die lewe deur goeie Christelike lewenswaardes in ons kinders se harte vas te lê! Ons is ‘n Afrikaanse, waardegedrewe skool, waar elke kind raakgesien en ontwikkel word om die beste mens te word wat hy/sy kan wees. Hierdie waardes word gebasseer op die vrug van die Gees soos beskryf deur Paulus in Gal 5:22.
Ons is ‘n plattelandse landbougemeenskap wat nog omgee vir mekaar en ons boerekinders word van graad een tot in graad twaalf onderrig in hul moedertaal, deur ‘n bekwame en ervare personeel. Ons akademiese prestasie spreek vanself en top-kwaliteit uitslae word jaarliks behaal. Spesialisvakke soos Wiskunde, Fisiese Wetenskap, Lewenswetenskap en Rekeningkunde is jaarliks onder die toppresterende vakke in die Vrystaat.
Elke jaar verwerf naastenby 80% van ons matriekleerders toelating tot graadstudie en ons het gereeld leerders wat toelating kry tot Veeartsenykunde en mediese studierigtings. Ons voorsien ook in die behoefte van ons omgewing, met Landboutegnologie, wat tot ons vakpakket toegevoeg is vir Gr 12 in 2021.
Op sportgebied ding ons mee teen die sterkste spanne en gee die Wilgies altyd uitstekende rekenskap van hulleself. Ons 0/15 Fast Five netbalspan is die huidige SA Kampioene, waar hulle skole soos Monument, Menlopark en Garsfontein uitgestof het!
Verskeie Springbokke, in verskillende sportsoorte het al die hoogste sport bereik en bewys dat dit nie nodig is om na sogenaamde groot skole te gaan om sukses te behaal nie. Friedrich Lombard, Coenraad Groenewald, Lizanne Helmand en Kobus Hattingh is van ons oud-skoliere, waarop ons baie trots is.
Kultuur word ook nie agterweë gelaat nie en ons redenaars en debatspanne presteer tot op nasionale vlak. Ons neem ook deel aan ATKV-Tienertoneel en verskeie olimpiades, waar ons kinders jaarliks uitblink. Johnny Muller het die eerste plek behaal met die nasionale Biologie olimpiade en het Suid-Afrika verteenwoordig, waar hy ‘n bronsmedalje in Hongarye verower het. Die Voortrekkerkommando is baie aktief en baie van ons kinders leer hier die vaardighede wat hulle lewenslank saamdra. Ons VCSV bied jaarliks ‘n jeugweek aan en elke Woensdag neem ons kringleiers
leiding by die skool en die koshuis, om die koninkryk uit te brei.
Ons beskik oor twee koshuise, naamlik die Eeufees dogterskoshuis en Wilgehof seunskoshuis. Hier word die kern van ons leerders deur opbouende tradisies geleer om leiding te neem in ons skoolgemeenskap. Hulle word deur ervare koshuisouers en diensdoenende personeel hanteer soos hulle eie kinders en ‘n huislike atmosfeer word geskep. Dissipline en pret loop hand-aan-hand en koshuiskinders word gewoonlik toppresteerders in akademie en sportspanne!
Ons skool se leuse word daagliks uitgeleef en daar word hard gewerk in Wilgieland, want ons weet dat ‘n mens altyd die vrugte daarvan iewers in die toekoms pluk.
ARBEID VEREDEL DIE GEES
Hennie Pelster
Skoolhoof